Sunday, January 15, 2012

Die lekkerste nagereg in die wêreld



Dis amper eenuur. Die nag, of die oggend. Die man snork so hard daar is geen kans dat hy nie wakker word daarvan nie; nogtans draai hy nie op sy sy nie. Ek is nie seker of ons dalk op minder goeie voet gaan slaap het nie, maar ek vermoed als is nie pluis nie (hy het hier 23:30 kom melk aanmaak vir die baba en was nie vriendelik toe ek kom vra het wat maak hy nie – ek het vanaand, gisteraand, vergeet daarvan). Ek wil nie vet op die moontlike vuur gooi nie, so ek kom sit maar en skryf, want die woorde draai in elk geval in my kop. 

Ons het die skoonfamilie vir Nuwejaar oorgenooi, met die idee dat ons sommer die vierjarige se partytjiekoek vir nagereg sal eet, maar toe word ek lus vir trifle en onthou die skoonsus in Kimberley het ’n resep. Dis Nataniël se Swartwoud-trifle wat sy ’n paar jaar gelede uit ’n Sarie geskeur en sommer gemaak het. Dié skoonsus het redelik vinnig naam gemaak in die stad met haar gebak, so jy kan maar ’n reseppie gebruik as sy hom aanbeveel. En met Nataniël kan jy ook nie sommer ’n fout maak nie – eendag skryf ek dalk net ’n ode aan die man.  

Hierdie trifle – met my eie klein aanpassing – het almal wat dit geproe het, se smaakknoppies laat lofliedere sing en die resep MOES net aangestuur word. En dis wat ek nou doen…

Nataniël noem dit die Swartwoud-trifle omdat hy geblikte swartkersies gebruik, maar die bessies op die winkelrakke (goed dan, Woolies se rakke, liefie, en dit was ongelooflik duur, maar dit was ook ongelooflik lekker!) het gesmeek om asseblief net op een of ander manier gebruik te word!

Toe knyp ek my oë toe en koop bloubessies, aarbeie, moerbeie en frambose en kry die resep. 


 
Saam met die bessies of kersies het jy die volgende baie dekadente bestanddele nodig:

12 sjokolademuffins
Brandewyn (moet nou net nie skaam wees daarmee nie)
500 g roomkaas
2 blikke kondensmelk
Sap van 1 suurlemoen
500 ml room
Sjokoladeballetjies (Whispers of Woolies s’n met die shortbread in)
Versiersuiker en kruisementblare vir versiering (maar ek het nie eers daarby uitgekom nie)

Voor jy begin, kan jy die roomkaas, kondensmelk en suurlemoensap meng. Kry ’n lekker groot, diep, mooi glasbak en begin. Sny die sjokolademuffins in die helfte en pak die eerste laag daarmee. Gooi brandewyn oor. Moenie die fout maak wat ek gemaak het en bang wees die brandewyn oordonder die ding nie – gooi goed. Dan kom daar ’n laag van die roomkaasmengsel en dan ’n laag bessies of kersies. Nou herhaal jy die lae. Klop die room styf en sit dit bo-oor, en heel bo-op kom die sjokoladeballetjies. Gebruik die hele pakkie, behalwe vir die een wat jy proe! Sif versiersuiker oor en druk kruisementblaartjies in om dit te laat mooi lyk as jy tyd en energie het. Die skoonsus sê dis die beste dat dié nommer oornag in die yskas staan dat al die bestanddele lekker kan bymekaarkom. 

Dit sal die beste nagereg wees wat jy in jou lewe eet.

Die resep is nogal op 'n paar plekke op die internet beskikbaar, so dis nie ’n staatsgeheim nie. Dit is in die Sarie van Desember 2006 gepubliseer so ver ek weet. Die skoonsus is seker dis Nataniël s’n, maar die internetblaaie laat my twyfel. Wie s’n dit ook al is, Nataniël bly een van my helde en Barbara Joubert, redakteur van Sarie Kos, se resepte is ook treffers.